Thursday, August 19, 2004

struis storie...

Vol Stof en Vol Struis
Hier is nou vir julle 'n "deng"!

Scott kom eergister by die huis aan met 'n grote glimlag op sy gesig en hande agter die rug. "I got you something!", borrel hy. Te oordeel aan die graad van sy opgewondenheid, is die "something" óf iets baie groot, óf die hond waarvoor ek al twee jaar lank "assebliefies" in sy ore fluister. Na 'n paar (verkeerde) raaiskote, pluk hy die “iets" triomfantlik agter sy rug uit.

Dis 'n... verestoffer...??!!! Verslae kyk ek van hom na die verestoffer en terug na hom. Ek deel duidelik nie sy opgewondenheid nie. 'n Verestoffer? Ek twyfel of hy my afgeblaasde gesig gesien het, want hy hop steeds op en af. "It's from South Africa!" borrel hy voort. "Ou-whu-ds-hoo-r-n" sê hy in sy beste Afrikaans. Ja, Oudshoorn is vol verestoffers en ek sien niks spesiaals aan hierdie een raak nie, beaam ek in my kop. Om nie heeltemal sy borrel te bars nie, sê ek toe maar hardop: "That's nice."

Hy vertel my toe in detail van die ou oompie wat in die winkel ingekom het met 'n sak vol verestoffers op sy rug. Dis 'n familie-besigheid en hulle maak en verkoop al vir die afgelope 87 jaar volstruisveer verestoffers. Ek bekyk die vere-gedoente van nader. Moet sê, dis nogal nie 'n sleg gemaakte ding nie. Daar is 'n handgemaakte leerjassie wat die vere aan die stok vashou. Die familie-besigheid se naam en telefoonnommer is in die houtstok ingebrand. Maar … dis ‘n verestoffer! So what!?

Scott is opgewonde, want hiérdie stoffer sal nie net 'n stofwolk maak en die stof verplaas nie. Hierdie vere tel die stof op en klou vas totdat jy dit uitskud. Hmmmm, ek is seker. Ek voel sommer ietwat vol stuis oor die $15 wat hy gemors het. Hy lees vir my die voordele van die volstruisvere:

"Pays for itself again and again" (Eeue-oue bemarkingslaggat. Scott moet mos beter weet, brom my gedagtes.)"Will not scratch fine surfaces" (Ons het nie enige "fine surfaces" in die huis nie.)"Outlasts ordinary feather dusters" (Ons het nie 'n verestoffer nodig nie. Wel, miskien het ons een nodig te oordeel aan die lae stof op die vensterbanke, maar verestoffers werk nie. Punt. Klaar.)"Picks up dust like a magnet." (Dit sal die dag wees.)Daar is "Use and Care" instruksies wat Scott noukeurig deurlees. Mens kan blykbaar die vere was. Blaas dit dan droog met 'n haardroër. Nogal, nê? Ek forseer 'n glimlag en vee die bol vere oor 'n tafeltjie wat dof is van die stof. Hmm, die stof is nie meer op die tafel nie, maar ek twyfel of dit op die stoffer is. Ek steek my hand by die voordeur uit en skud-skud die stoffer sonder entoesiasme. Grote griet!! 'n Stof-ontploffing! EK bons terug in die huis in en vee sommer oor die vloerlysie wat agter die bank is - daar lê die stof sommer so swart. Wrintiewaar! Die vere tel die vuil op. (Maar ek moes darem 2 keer vee.) Wat van die "stofhasies" wat om die enkels van die eetkamerstoele vasklou? Jip... die hase klim op die vere. Weer buitentoe om te sien of die stof op die vere of iewers anders in die huis is. Ek skud die ding soos 'n pom-pom... en daar fladder die vuil tot op die azalia-blare.
Teen hierdie tyd moet ek erken dat daar 'n hup in my stappie is en dat ek glad nie meer vol struis voel nie. Die ding werk! Wie het nou ooit kon dink dat iets so algemeen en allesbehalwe noemenswaardig, vreugde in huisskoonmaak kon sit? En dit nogal al die pad uit Oudshoorn. Scott bekyk my dans uit die kombuis. "You like that thing, don't you!" En ek moet bieg. "Ek laaik daai deng."Ek soek nou eintlik opgewonde na die stofhoekies waar ek gewoonlik 'n blinde oog gegooi het as die "dust bunnies" so op die houtvloer begin opgaar het. Maar Scott geniet dit die meeste. Hy het nog nooit sy vrou so opgewonde gesien oor afstof nie! En hy beweer ook dat hy sederdien minder nies...

No comments:

Post a Comment

Make my day: add to my therapy with your words:-)