Sunday, March 20, 2005

Uit die mond van die suigeling…

Julle ken dalk die boekie : Hans die Geluksoeker deur Pieter W. Grobbelaar. Dit was een van my gunstelinge as ‘n “pipskwiek” en klein Devan volg in my voetspore. Dis die storie van Hans wat sy eie en ‘n string ander mense se geluk gaan soek. Hy loop hom vas in “Die Mooiste Meisie” wat onder dwang vir ‘n mensvreter huishou en nie weet hoe om te ontsnap nie. Om ‘n lang storie kort te maak: Hans word haar verlosser uit die mensvreter se kloue en sy word Hans se “geluk” wat hy gaan soek het. Snaaks genoeg voel Devan vere vir Hans. Maar hy wil gedurig van “Die Mooiste Meisie” lees!

Vanaand terwyl ek sy bloubessies en jogurt meng roep hy skielik uit: "Mooiste meisie! Mooiste meisie!” Siende dat ek toe die enigste meisie in sig is, vra ek toe maar vir hom of mamma dan die mooiste meisie is? Baie eerlik en opreg s^e hy toe: “Neee-eeee”. “Nou wie is ek dan, Devan?” Sonder aarseling kom die antwoord: “Mensvreter! Mensvreter!”

Nou wonder ek of dit die prentjie van die een-oog-deurmekaar-haar-boomstomp-been-mensvreter sou wees wat hom die idee gee… of die feit dat ek gedurig dreig om hom op te eet uit liefde! :-0

No comments:

Post a Comment

Make my day: add to my therapy with your words:-)