Wednesday, May 24, 2006

Logika!

Ek en die seuns was die afgelope paar dae saam met ‘n vriendin en haar kinders by die see gewees. Elke keer wanneer ons strand toe is was die gety in ons guns: laagwater. Die enkele ry rotse wat die water in streep was dus sigbaar en toeganklik vir klein voetjies en handjies om op te klouter. Die effense poeletjies wat aan die voet van de rotse vorm het ook eindelose plas-pret verskaf. n Entjie die see in was daar‘n groot “skip” geanker wat iets te doen het met voorkoming van strand erosie. Grawe sand uit of iets. Devan en Neels was beide heel gefasineer met die stuk masjienerie.

Die laaste oggend is ons weer vir oulaas strand toe met die doel om die kinders uit te put vir die lang pad huis toe. (‘n Slapende peuter is hoeka ‘n beter passasier as ‘n klaende kabouter.) Maar groot was Devan se verbasing toe ons voete die sand tref. Dit was hoogwater en net 2 rotse was sigbaar. Af en toe, met die wegtrek van die golwe, kon ons die pieke van die res van die rotsreeks sien. Hy het dadelik gaan ondersoek instel en nie lank nie toe is hy terug met ‘n verduideliking:“Mamma, daardie groot boot daar in die see het ons rotse in die waaaater gegooi terwyl ons geslaaaaaap het! Ja dis wat gebeur het!”

Nou wie kan met sulke logika stry?

No comments:

Post a Comment

Make my day: add to my therapy with your words:-)